Dagstukkies met Wayne & Chantelle 28 Oktober 2019

Oktober 28, 2019

28 OKTOBER 2019

Psalm 95:1-2:  #Sing                                                                        

Kom, laat ons jubel tot eer van die Here.  Laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind, laat ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange.”

Wat ‘n gerusstellende wete dat “ons na Hom toe (kan) gaan”. As gevolg van die Kruisdood van Jesus Christus is daar vir jou en ons direkte toegang tot God die Vader en ons kan na Hom toe gaan met enigiets. Ons het niemand nodig om ons te lei in die teenwoordigheid van God nie, want Jesus het reeds vir ons die weg gebaan en ons het direkte toegang tot die aller heiligste teenwoordigheid van God die Vader.

Die hartseer realiteit egter waarmee ons gekonfronteer word (en ons self ook van skuldig is by tye) is die groot vraag: As ons wel na God toe gaan, met wat gaan ons na Hom toe?  As jy tyd eenkant sit in jou week, of jou dag, en jy kan tyd met Jesus spandeer, waarmee is dit waarmee jy na Hom toe gaan? Is dit versoeke met wat jy op die hart het? Is dit ‘n lys van behoeftes van dit wat jy graag wil hê? Of kom jy na Jesus toe met lof in jou hart en bloot vir die feit dat jy God wil toejuig met lofsange?

Jou realiteit op die oomblik mag dalk nie vir jou goeie rede gee om te wil sing nie. Dit mag dalk nie vir jou goeie rede gee om te jubel en te juig nie, maar ons kan wel jubbel en juig ten spyte van wat ons realiteit is. Ons besef in hierdie skrifgedeelte dat God die “rots is by wie ons redding vind”. Waarom dan sal ons nie na Hom toe wil kom met lof in ons hart en lofsange op ons lippe nie?  Ons het van God ‘n noodstop gemaak. ‘n Uitkoms waarheen ons vlug in ‘n tyd van nood. Kom ons verander dit. Kweek die gewoonte aan om na Hom toe te gaan met lofsange en lof in ons hart. Hoe moeiliker die storm om jou, hoe harder moet jy sing.

Vat hierdie week en #sing. Sing lofsange aan God jou Redder. Sing kliphard. Sing soos ‘n vriend van God.

Van jou vriende,

Wayne & Chantelle