Dagstukkies met Wayne 9 Augustus 2019

Augustus 9, 2019

9 AUGUSTUS 2019

Markus 11:24:  #Gebed                                                                 

Alles wat julle in gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Dit is baie belangrik om die twee belangrikste elemente raak te sien in hierdie skrifgedeelte – gebed en geloof.

Dit is hierdie twee komponente wat hand-aan-hand funksioneer. Ons kan nie net bid oor ‘n saak en dit daar los nie. Ons moet geloof toepas en glo dat God ons werklik sal antwoord. Die grootste manier waarop ons soms misluk in hierdie verband, is die wyse en manier waarop ons praat. Ons woorde en ons gebede is nie altyd in lyn met mekaar nie.

Twee jaar gelede was ek deur ‘n vriend van my uitgedaag om te begin draf. Ek wou dit glad nie doen nie en het toe teen my sin wel besluit om dit een maal te gaan doen (net om hom van my rug af te kry). Behalwe vir die feit dat ek daardie oggend gevoel het of ek by die dood omdraai het iets anders ook gebeur (wat ek nie dadelik vir my vriend gesê het nie): Die draf-gogga het my gebyt! Ek het lief geword vir die sport en het dit deel gemaak van my leefstyl vir sowat twee jaar, totdat iets gebeur het wat my hartseer gelaat het. Ek het ‘n besering opgedoen in my regter knie en ek moes gaan vir ‘n operasie. Na die operasie het die dokter my afgeraai om weer te draf.

Om terug te kom na die punt:  ek het bly bid dat die Here my knie gesond sal maak, want Hy is mos die Geneesheer en Hy kan alles doen. Die probleem was dat my woorde nie in lyn was met dit wat ek gebid het nie. In my binnekamer het ek bly bid dat die Here my sal genees, maar met almal met wie ek in aanraking gekom het en wat vrae het oor my knie gehad het, het ek bly sê dat “ek nooit weer sal kan draf nie” en dat my knie “nooit weer dieselfde sou wees nie.” In hierdie geval het my gebed gefunksioneer sonder geloof en mense kon dit sien.

As jy kyk na jou situasie waaroor jy tans bid – glo jy werklik dat God dit vir jou kan doen en praat jy reg daaroor? Of bid jy een ding en praat iets heeltemal anders?

Weet dat God jou gebede wil beantwoord en dat Hy vir jou wil doen waaroor jy bid, want jy is ‘n Vriend van God.