Dagstukkies met Wayne 8 Augustus 2019

Augustus 8, 2019

8 AUGUSTUS 2019

Matteus 6:7-8:  #Gebed                                                                 

Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie.  Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.  Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het voordat julle dit van Hom vra.”

Ons almal ken só ‘n tipe gelowige wat altyd in gebed ander wil beïndruk met die gebruik van hul woorde. Dit is wat vir my so mooi is van die God wat ons dien. Die feit dat Hy nie mens is nie en nie omgekoop kan word met mooi woorde nie. Hy word ook nie beïndruk met woorde of word daardeur gemanipuleer nie. Dieper as woorde kyk Hy na ons hart. Let daarop dat hierdie skrifgedeelte nie sê aangesien God ons ken en weet wat ons nodig het, ons dit as verskoning kan gebruik om nie te bid nie. Nee – ons moet steeds bid! Maar wanneer ons wel bid kan ons net onsself wees en hoef ons onsself nie te bewys deur die aantal woorde wat ons gebruik nie.

Toe ek jonger was en net tot inkeer gekom het, het ek soveel goed gehad om vir God te sê en vir Hom te vra maar omdat ek gevoel het dat ek nie die perfekte woorde gehad het nie, het ek gebed eerder heeltemal vermy. Dit is glad nie die plan van God vir jou en my lewe nie. Hy stel nie belang in die woorde wat ons gebruik (of nie gebruik) nie. Waarin Hy wel belangstel is die feit dat ons tyd maak vir Hom en ons harte voor Hom uitstort.

As dit jy is vandag vra jy jouself dalk: “Waar begin ek dan?”  Daar is ‘n ou lied met die volgende woorde waarmee ek jou vandag wil bemoedig.  Dalk voel jy tans presies soos hierdie lied beskryf en weet jy ook nie hoe om te bid nie:

“You don’t have to know how to pray, all you have to know how to say is “Jesus.” In a shouted voice of a whispered tone, is a crowded room or when you’re all alone it is “Jesus.”

Begin vandag deur jou hart voor Hom uit te stort.

Nie met fêncy woorde of lang paragrawe nie… wees jy net jy.

Wees jy ‘n Vriend van God.