Dagstukkies met Wayne 6 Augustus 2019

Augustus 6, 2019

6 AUGUSTUS 2019

#Gebed       Efesiërs 6:18:                                                                                     

Doen dit alles bidden en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.  Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.”

Hierdie skrifgedeelte is baie bekend en word sommer maklik aangehaal in boodskappe rondom gebed. Dit is ook ‘n skrifgedeelte wat ek goed ken en self ook baie gebruik om ander te leer en te inspireer rondom gebed. As ek egter die skrif lees staan die volgende woorde vir my uit: “Doen dit alles biddend.” Beantwoord die volgende vraag vir jouself so eerlik as wat jy kan: “Doen jy alles biddend?”

As ek eerlik moet wees met jou: ek doen nie. Soms is gebed nie my eerste reaksie in ‘n moeilike situasie nie; dit is ook nie altyd my eerste opsie in tye van krisis nie; dit is ook nie my eerste “stopplek” as ek antwoorde soek of ‘n uitkoms nodig het nie. Voordat jy my oordeel, wees eerlik met jouself en dink mooi daaraan: Doen jy werklik alles biddend? Die mooi-antwoord is natuurlik: “Ja!” Ons wil alles biddend doen, maar as ons vir ‘n oomblik mooi daaroor moet dink is die antwoord nie altyd “ja” nie.

In die tye van krisis, tekort, behoefte, teleurstelling, of wanneer ons antwoorde soek, oplossings nodig het en opsies oorweeg met groot besluite, dan is gebed nie altyd nommer een op ons lysie van take wat verrig moet word nie. Weet jy hoekom is dit die geval? Want ek (en jy) heg nie genoeg waarde aan gebed nie. Gebed kan van ons teleurstellings voorkom, dit kan van ons situasies verander en dit kan help dat ons verkeerde besluite maak, sou ons alles biddend doen en alles in die lewe so benader. Maar omdat ons dit nie doen nie, is dit die oorsaak dat ons soms sit waar ons sit.  Kom ons kweek nuwe gewoontes en doen alles biddend.

Voordat jy daardie besluit maak, daardie ding koop, daardie besigheid oop of toe maak, trou met daardie man of vrou, voordat jy ja of nee sê vir daardie geleentheid wat voor jou staan… stop! Bid en reageer eers dan.

As ons dit doen, sal ons werklik geken word as ‘n Vriend van God.