Dagstukkies met Reinhard 11 April 2019
April 11, 2019
Hosea 2: 16-17: #Luister
“Let daarom op, Ek sal haar lok, haar in die woestyn inbring en sagkens met haar praat, dan sal Ek haar wingerde daarvandaan gee en die vallei van Akhor as ’n deur van versekerde verwagting en sy sal daar sing soos in die dae van haar jeug, soos op die dag toe sy uit die land van Mitzrayim opgekom het.”
Ons almal kan getuig van ons verlede en dat daar partykeer dinge is wat agter ons is wat ons nie regtig agter ons gesit het nie. Ons haal dit nog aan in konfliksituasies en wanneer ons deur moeilike tye gaan herinner ons onsself en ander mense van ons teleurstelling en ons hartseer. Maar deel daarvan om vir God te luister is om te erken dat Hy sê vir ons Hy maak alles nuut en dat dit wat voor ons is is ver beter as dit wat agter ons is. Dat Hy ons op Sy hande dra, dat Hy vir ons krag gee sodat ons nie ons toon sal stamp nie en dat Hy ons sal oplig op arendsvlerke. Wanneer ons konstant kyk na wat agter ons is mis ons uit na al die rykdom wat God voor ons sit. Die rykdom van goeie gees en standvastige emosies. Die rykdom van dalk ‘n finansiële deurbraak. God wil hê ek moet kyk na dit wat voor my is en my oë op hom gerig hou sodat ek nie elke keer tydens moeilike tye sal terugkyk nie.
In Hosea 2:16-17 sê Hy so mooi dat Hy sal sorg, Hy wat God is. Dat jy die name van die Baals nie meer sal noem nie. Dat dit wat in jou verlede is weg is, sê Hy vir ons, dat jy nooit meer dit sal aanroep nie. Op dié dag sal Hy met Israel ‘n ooreenkoms sluit met die wilde diere, die voëls en alles wat op die grond kruip en Hy sal die wapens vernietig en ‘n einde maak aan oorloë in die land sodat daar rus en vrede kan wees. Wanneer ek en jy ophou kyk na wat agter ons is naamlik ons verlede, ons foute, ons tekortkominge en ons sit ons oë op God dan bring Hy vir ons vrede. Hy bring vir ons rus en Hy bring vir ons ‘n nuwe geleentheid.
Kom ons bid saam:
Here, dankie dat ek kan weet dat U in beheer is van my lewe en dat ek nie hoef agter my te kyk om te sien wat my gaan vang en probeer seer maak nie maar dat ek my oë gerig kan hou op U en weet dat U ‘n plan het en vir my ‘n toekoms bewerk.
Seëngroete