Dagstukkies met Reinhard 10 April 2019
April 10, 2019
Jeremia 33:3: #Luister
“Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.”
Het jy al ooit vir God gevra: “Here, wys my dinge. Praat met my. Sê vir my wat U wil is vir my lewe.” Partykeer dan kom die antwoord in die vorm van: “God wil nie met my praat nie. Dit voel asof ek in die dak vasbid. Dit voel asof niemand my hoor nie.” Dink jy regtig God gaan nie luister as ek en jy met Hom praat nie? Dink jy regtig dat Hy ons ignoreer? Al voel dit partykeer so, kom ons sê vir mekaar wat die waarheid is. God luister altyd! God doen altyd en Hy is besig om dinge in my en jou lewe te bewerk wat vir ons van groot seën gaan wees.
In Jeremia 33:3 gee die Here basies vir ons ‘n opdrag en Hy daag ons uit. Hy sê vir ons: “Vra My en Ek sal vir jou ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur waarvan jy niks op hierdie oomblik weet nie.” Die opdrag wat God vir ons gee is om die vrymoedigheid te neem om te vra en Hy sal dinge vir jou wys en Hy sal jou lei. Maar in dieselfde asem moet ek en jy bereid wees om te kan stilword en te sê: “Here, goed dan. Ek het nou gevra. U is getrou. U belowe dat U met my sal praat. Maar nou gaan ek stilbly. Nou gaan ek luister. Nou gaan ek hoor waantoe U my wil lei. Ek gaan luister wat U vir my wil sê en wat my uitweg op my vraag is.” As jy kan luister sal jy weet God is getrou. Hy sal nooit ophou om met jou te deel die begeertes van nie net Sy hart nie, maar jou hart ook daarby.
Kom ons raak stil:
Here, dankie dat ons weet dat ons kan vra en dat U getrou is om in U woord te sê dat U sal vir ons die ongelooflikste goed vertel. Dinge wat ons nog nooit eens aan gedink het nie. Dankie vir U getrouheid en dankie dat ek kan weet dat daar altyd ‘n oop deur na U toe is.
Seëngroete