Dagstukkies met Naas 9 Desember 2019
Desember 9, 2019
Job 33:14 – 18: #Droom
“Want God spreek op een, ja, op twee maniere, maar die mens let nie op nie. In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mens val tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg, sodat Hy sy siel kan red uit die kuil en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.”
Van die vroegste tye af leer ons dat God baie keer met die mens gespreek het deur drome. Dis vandag nog die geval. Hoeveel keer het jy al ‘n droom gehad net sodra jy insluimer? Nog voor jy vas slaap! Dan weer met ander tye wanneer jy diep in droomland is. Dis waarvan Job praat in hierdie gedeelte.
Ons weet dat Job die oudste boek in die Bybel is. Ja, jy het reg gelees. Job is die oudste boek van die Bybel. Nie Genesis nie. Nou sê Job, God praat met die mens deur naggesigte as diepe slaap op hom val, maar ook voor hy diep slaap, net sodra hy insluimer op die bed. Daar is dus spesifieke redes waarom God met die mens praat.
Wanneer ek hierdie gedeeltes lees in Job 33 vanaf vers 14, word ek net weer opnuut bewus van God se absolute liefde en belangstelling in die mens. Sy begeerte om met Sy kinders te kommunikeer. Grotendeels ook omdat Hy die mens liefhet en bekommerd is oor sy welstand soos dit ‘n goeie Vader betaam. Daarom dan juis die waarskuwing in hierdie gedeelte teen verkeerde gedagtes en dade, en hier praat Job spesifiek van trotsheid. Hoogmoed. God besoek die mens in sy slaap om hom te waarsku teen hierdie dinge wat hom sy lewe kan kos. Let op wat Job sê in vers 18. “Sodat Hy sy siel kan red uit die kuil en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie!”
In Spreuke 16:18 lees ons “trotsheid kom voor die verbreking en hoogmoed kom voor die val”. So sal dit dan wees met die trotsaard. Met die hoogmoedige. Jesus sê self in Matteus 11:29 dat Hy, wat Jesus is, sagmoedig is en nederig van hart. Jakobus skryf in hoofstuk 4:6 “…daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Kom ons besluit vandag om, met God se genade, onsself nie beter te ag as ‘n ander nie. Daar is ‘n ou koortjie wat ons gesing het toe ek jonk was met die titel “te wees soos Jesus”. Kan ek vra dat dit ons begeerte sal word om te wees soos Jesus…