Dagstukkies met Naas 13 Desember 2019

Desember 13, 2019

 

Handelinge 2:17:  #Droom

So sal dit in die laaste dae wees, sê God:  Ek sal My Gees uitstort op alle mense:  Julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien; julle oumense sal drome droom”.

Die Woord leer mos vir ons in Amos 3:7 dat die Here niks doen sonder dat Hy eers Sy profete in kennis stel wat Sy planne is nie. Hier sien ons dit baie duidelik wanneer Hy praat oor wat in die laaste dae gaan gebeur. Selfs in die laaste dae gaan mense drome droom! God gaan in naggesigte en drome mense besoek en inlig oor die dinge wat kom.  Dit gaan egter weereens bemoedigings, maar ook waarskuwings wees vir die mens om in gereedheid te kom vir wat oppad is.

God beloof ons in hierdie skrif in Handelinge 2:17 wat ook verwys na wat die profeet Joël gesê het in Joël 2:28 dat die ou mense drome sal droom en die jongeling gesigte sal sien wat God self in die nag aan hulle sal kom wys.  Omdat Hy ons so lief het is dit steeds God se begeerte dat die mens gereed sal wees vir Sy wederkoms. Daarom ook juis dan hierdie besoeke in drome en gesigte aan Sy kinders om skoon en rein te lewe.

Wanneer ons rondom ons kyk besef ons dat ons werklik in die laaste dae lewe. Die wêreld is boser as ooit. Meeste profesieë het reeds in vervulling gekom en die huidige wêreldgebeure herinner sterk aan wat die profete geskryf het, sommige nog voor die geboorte van Jesus. Natuurlik sien ons ook dinge gebeur waarvan Jesus gepraat het tydens Sy lewe hier op aarde. Dis asof ‘n fliek besig is om voor ons af te speel, ‘n fliek waarvan ons reeds die voorprent gesien het want die dinge wat gebeur is vir ons nie meer snaaks nie. Ons is bekend daarmee. Ons weet dit gaan gebeur want die Bybel waarsku ons daaroor.

Dan kom God en besoek ons in drome en gesigte omtrent die dinge van die laaste dae en WEET ons dat Sy koms voor die deur is! As ons mooi luister in die gees, kan ons alreeds die perde pote op die Hemelse Plaveisel hoor terwyl hulle ingespan word vir die wederkoms van onse Here Jesus Christus.  Kom ons wees gereed om te kan sê “MARANATHA”. Ja, kom Here Jesus, ons verwag U!  Wees geseënd!