Dagstukkies met Naas 10 Desember 2019
Desember 10, 2019
Genesis 46:2-3: #Droom
“En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: ‘Jakob, Jakob!’ En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: ‘Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ‘n groot nasie maak.”
Ons het gister gesien hoe God die mens besoek in ‘n droom om hom te waarsku. Vandag sien ons hoe God vir Jakob besoek in ‘n droom om ‘n totale verskillende rede. God roep vir Jakob terwyl hy slaap en onmiddellik antwoord Jakob “Hier is ek”. Wat hy daarmee te kenne gee is: hier is ek, Here, praat maar ek luister. Is dit ook ons gesindheid wanneer God met ons praat, of hoor ons partykeer nie so lekker nie? Ek vra sommer maar…
Dan sê God vir hom wie Hy is. Hy stel Homself bekend as die God van sy vader Isak. Duidelik het Jakob geweet wie hierdie God is. Isak het hom vertel van hierdie wonderwerkende God. Isak was immers op die altar, gereed om geoffer te word, onthou jy? Toe Jakob dus die stem van God hoor, het hy presies geweet wie hierdie God is. Die volgende strofe bevestig dan ook dat Jakob op een of ander stadium tot hierdie God van sy vader gebid het vir raad. Eerstens seker oor die groot stuk onsekerheid wat skielik voor hom lê, en ook omdat hy dalk bietjie bang was vir die lang reis wat voorlê. Daarom dan die vertroostende woorde dat hierdie God wat sy vader van ‘n offer dood gered het, hom ook sal beskerm met die woorde “Moenie bevrees wees nie”. Moenie bang wees nie. Dieselfde woorde wat Jesus ook aan Sy dissipels gesê het tydens die storm op die see van Galilea!
Nadat Jakob die vertroosting ontvang het om nie bang te wees nie, kom die belofte van God af dat Hy self vir Jakob ‘n groot nageslag gaan gee! Jakob, wat deur omstandighede gedwing word om af te trek na Egipte, word gehoorsaam aan God en ontvang dan ook die belofte van die seën wat op hom sou wag wanneer hy in Egipte aankom. Deur sy gehoorsaamheid aan God – soos sy oupa Abraham en sy vader Isak – word Jakob deel van die Naam wat God self aanhaal wanneer Hy later na Homself verwys as die God van Abraham, Isak en Jakob.
Jy sal onthou dat niks tussen Abraham, Isak en Jakob se gehoorsaamheid aan God kon kom nie. Niks was belangriker nie. Daarom ook Samuel se woorde aan Saul: “…Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme…” (1 Sam 15:22).
Kom ons wees gehoorsaam aan God om te lewe soos Hy van ons verwag!