Dagstukkies met Louise 18 Oktober 2019
Oktober 18, 2019
Jesaja 43:1: #Vreesloos
“Wees nie bevrees nie want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne!”
Wannner ‘n kunstenaar besluit om ‘n nuwe kunswerk te skep, besluit hy oor die kleinste detail van die kunswerk om te sorg dat die eindproduk lyk soos dit wat hy in sy verbeelding gesien het. Dit is ‘n groot droom. Wanneer die kunswerk uiteindelik klaar is, kry dit ‘n naam en dit is hoe die kunswerk daarna uitgeken word, want die naam verwys meeste kere na unieke eienskappe van die kunswerk. So is jy ook ‘n unieke kunswerk. Jy is kosbaar. Jy is by jou naam geroep. Jy behoort aan die Meesterkunstenaar.
Meer as dit nog. Jy is vrygekoop. Jy is verlos. Maar jy glo dit nie, né? Ons leef mos in ‘n wêreld waar ons nie iets moet glo as dit te goed klink om waar te wees nie? Maar God se woord kan ek en jy vertrou. As Hy sê jy is verlos, dan is jy verlos. Daar het nie ‘n fout ingesluip met die papierwerk nie. Al voel dit vandag vir jou asof al die bitter van die verlede jou inhaal, weet net jy hoef nie bevrees te wees nie. Doen dit net. Ek dare jou.