Dagstukkies met Louise 17 Oktober 2019

Oktober 17, 2019

17 OKTOBER 2019

Matteus 6:34:  #Vreesloos

Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel.  Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”

Het jy al ooit iemand ontmoet waar dit voel asof julle mekaar net verstaan?  Amper asof julle uit een mond praat?  Asof julle mekaar se gedagtes kan lees?  Die Engelse mense het so ‘n lekker uitdrukking vir so ‘n ervaring.  Hulle sê: they just get me.  Voel jy nie asof hierdie teksvers jou net kry nie?  Wanneer laas het jy toestemming gehad om nie oor môre te bekommer nie?  Wanneer laas het iemand vir jou gesê jy hoef nie eers oor vandag bekommerd te wees nie?

Het jy die moed om iemand te glo sou hulle dit waag om dit vir jou te sê?  Het jy die moed om jou geloofspiere so in te span dat jy sal glo dat jy jou nie oor môre hoef te bekommer nie? Meer nog, dat die Here net die beste in gedagte het vir jou vandag? Ek glo dat die grootste kompliment wat ons vir die Here kan gee is om Sy Woord te glo.  Hierdie vers toets ons vreesloosheid in sy totaliteit – kom ons daag onsself uit om nie oor môre te bekommer nie.  Dit word elke dag ‘n bietjie makliker.