Dagstukkies met Louise 15 Oktober 2019
Oktober 15, 2019
Johannes 14:27: #Vreesloos
“Vrede laat Ek vir julle na, My vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle harte nie ontsteld word en bang wees nie.”
Ons God is ‘n God van oorgenoeg. Hy gee nie soos die wêreld waar daar te kort is nie, maar wel in oorvloed. Die oorvloed is so groot dat dit alle verstand te bowe gaan. Dit is wat ek en jy moet onthou wanneer dit voel asof alles nie uitwerk nie. Ons kan vasklou aan God se vrede.
Ek wil jubel en dans oor hierdie woorde van Jesus. As Hy vir my en jou vrede gee, en by ons los, beteken dit dat ek en jy dit ook vir mekaar kan gee. Dis ‘n heilige geskenk, ‘n geskenk wat nie van hierdie wêreld af is nie, ‘n geskenk wat nie sal opraak nie. Ek wil jou graag seën met ‘n goddelike geskenk. Vir jou wat nou hier lees, seën ek. Ek seën jou met die seën van die Here. Mag jy die vrede wat alle vestand te bowe gaan vandag en vir altyd ervaar.