Dagstukkies met Lorrein 9 Oktober 2019
Oktober 9, 2019
Efesiërs 4:29: #Woorde
“Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.”
Jy is dalk ’n persoon wat nooit ’n lelike woord sê of ’n vuil grappie sal herhaal nie. Trouens wanneer iemand in jou geselskap sou vloek bloos jy namens die persoon en verkies om liewer die gesprek te verlaat. Vuil taal kom daar nooit uit jou mond nie. Hierdie teksvers is beslis nie op jou van toepassing nie! Maar as jy die vers in sy geheel lees, besef jy dat hier nie net sprake is van growwe taal of vloektaal nie.
Vuil taal is hier baie meer omvattend en beteken ook sleg of afbrekend of soos die woord sapros in die Griekse teks beteken, stinkend of verrot! Die sappige brokkie skindernuus wat jou so interesseer, is in werklikheid soos verrotte vleis wat nie alleen jouself nie, maar ook jou hoorders kan vergiftig. Moet dit nie ontvang nie en moet dit ook nie aangee na ander om aan te smul nie. Baie verhoudings is al vertroebel en lewens vernietig hierdeur. Die Apostel Paulus maan ons om veel eerder woorde te spreek wat ons hoorders kan opbou en voed en nuttig is om ons op ons geestelike wandel te help. In kort, moenie skindernuus ontvang of aangee nie!