Dagstukkies met Lorrein 8 Oktober 2019

Oktober 8, 2019

8 OKTOBER 2019

Matteus 12:36 – 37#Woorde

Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

In sy boek, Does your tongue need healing? skryf Derek Prince “Jou siel bevat jou hele persoonlikheid. Dit is die ware jy. Dit is waar die vyand heel eerste tot jou hart toegang verkry. As jy jou siel wil bewaak, moet jy heel eerste jou lippe bewaar.”

Jou mond en jou tong is die lewensaar wat vir jou groot seën of ondergang kan beteken. Hoe dikwels lees ons nie dat een of ander glanspersoonlikheid sê; ‘Daar is nie ’n God nie’, of ‘Ek glo nie in satan of die hel nie’. Woorde wat getuig dat daar nie geestelik insig is nie.

Ligsinnige woorde wat van ewigheidsbelang is. Hoe vreeslik moet dit nie wees om eendag in die teenwoordigheid van die Hemelse Koning verantwoording te doen oor sulke los praatjies nie!  Wees ’n lewende voorbeeld en meet en weeg jou woorde omdat jy weet dat daar vir jou ’n strenger maatstaf is omdat jy die Waarheid ken. Laat jou woorde elke dag ’n getuigskrif wees van die ware jy wat daarna streef om meer en meer soos Jesus te wees.