Dagstukkies met Lorrein 11 Oktober 2019
Oktober 11, 2019
Spreuke 12:18: #Woorde
“Daar is hulle wie se woorde soos die steek van ‘n swaard is, maar die tong van die wyse genees.”
Het jy al gehoor dat iemand sê: “Ek word selde kwaad, maar as ek die dag ontplof…”, of ’n ouer wat vir ’n kind sê: “Man, jy is net so lui of dom of lomp soos jou pa!”
Woorde kan in ’n oomblik van woede of frustrasie uitgespreek word, maar die uitwerking daarvan kan soos met ’n atoombom vir eeue later nog gesien of gevoel word. Woorde, soos dolksteke veroorsaak wonde wat lank vat om te genees en soms nooit ooit weer verdwyn nie. Daarteenoor, kan woorde ook genesend wees en lewe gee. Charles Capps sê in sy boek, The Tongue, a Creative Force “The spoken Word will work for you as you continuously confess it”.
God se Woord spreek ons hele menswees aan en is medisyne vir ons gees, siel en liggaam. Wanneer ’n wyse mens, iemand wat goed onderlê is en die Woord spreek, praat is daar genesing en opbouende lewenskrag wat uitvloei na die hoorder. God het ons die outoriteit gegee om in Sy Naam krag en geloof te spreek in en oor alle aspekte van ons lewens. Soos Charles Capps dit stel: “Die Woord van God, gebore in die menslike gees en uitgespreek oor die mens se lippe is ’n skeppingskrag in die lewe van die gelowige.”