Dagstukkies met Lorrein 10 Oktober 2019
Oktober 10, 2019
1 Petrus 3:10: #Woorde
“As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens.”
Daar staan geskrywe: ‘”As iemand die lewe liefhet en ’n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens,” Petrus haal hier Ps 34:13 – 14 aan. Hier is vir ons twee riglyne tot ’n lang en goeie lewe: weerhou jou tong van kwaadpraat en bewaar jou lippe van leuens. Dit klink maklik genoeg, nie waar nie? Maar wag ’n bietjie; wat beteken kwaadpraat? Jy beswadder dalk niemand nie, maar geniet jy dit wanneer iemand anders dit doen? Tree jy in die bresse vir ’n persoon wat in jou teenwoordigheid sleggemaak word? Jou stilte wanneer iemand se karakter vermoor word maak jou aandadig aan die vernietiging van kwaadpratery.
En wat van leuens? Vertel jy nou en dan ’n ‘wit-leuentjie’ of ’n halwe-waarheid? Vergroot jy dalk die afslag wat jy gekry het, of verklein jy die prys wat jy vir ’n item betaal het? Derek Prince sê: “Daar is nie ’n grys area nie; as dit nie die waarheid is nie is dit ’n leuen. En satan is die vader van leuens.” Kortom, as jy lippe bewaar van leuens en kwaadpraat en net die goeie in mense sien en deel, sal jy gesonder wees en langer lewe.