Dagstukkies met Karien 28 Junie 2019
Junie 28, 2019
Philippense 4:6: #Lewe
“Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”
Al ooit die frase gehoor: ‘Let go and let God…’? Om te laat gaan beteken nie noodwendig jy gee nie meer om nie, dit beteken net jy kan nie meer iets daaraan doen nie. Om te laat gaan beteken jy gee vrees nie meer vatplek aan jou siel nie. Om te laat gaan beteken jy staar die waarheid in die oë en gee God die reg om in te gryp. Om te laat gaan beteken jy skuif al die negatiewe kommentaar agter die rug en stel jouself in op wat God sê. Om te laat gaan laat jou toe om die stilte weer te geniet. Om te laat gaan gee jou moed om alleen te staan wetende dat jy in Sy voetspore staan. Om te laat gaan gee jou krag om asem te haal, jou oor in te stel om God se stem te hoor en weer te glo dat Hy omgee.
Om te laat gaan is nie om magteloos toe te kyk dat dinge ten gronde gaan nie, maar om die natuurlike verloop van sake te bestuur en nie die uitkoms te probeer bepaal nie. Om te laat gaan is om nie meer te oordeel nie, te aanvaar, te luister en nie raad te gee nie. Om te laat gaan is om ander nie tereg te wys, te manipuleer of situasies te draai sodat dit jou pas nie. Om te laat gaan is om jou woordeskat in te perk, op te hou kritiseer, op jou tong te byt en vir ‘n slag op te hou praat. Om te laat gaan beteken jy kan nie meer spyt wees oor die verlede, magteloos voel oor dit wat jy nie gedoen het nie, bang word oor die toekoms en nutteloos voel in die hede nie. Om te laat gaan beteken om weer liefde te ontdek, weer klein dingetjies raak te sien en dag vir dag iets te geniet.
Bly glo.