Dagstukkies met Karien 26 Junie 2019
Junie 26, 2019
1 Tessalonisense 5:18: #Lewe
“Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
Een van die top tien toeriste aantreklikhede volgens ‘n internasionale reisigerstydskrif is die Dooie See. Van die redes waarom die Dooie See so ‘n uitstekende bestemming is, is omdat die hoë mineraalkonsentrasie nie net baie goed is vir jou vel nie, maar diegene wat nie kan swem nie die kans gun om op die water te dobber! Die Dooie See sal altyd die Dooie See bly: sonder enige lewende organisme wat daarin of rondom dit kan oorleef. Daar is geen uitlope in die Dooie See nie en enige vars water wat in die Dooie See inloop word dadelik besoedel en verander onmiddellik in soutwater.
God wou nooit gehad het ons moes damme wees wat alles net vir onsself opgaar nie. Hy wil hê ons moet riviere wees wat uitvloei en ander seën. Om ‘n gesonde vlak van tevredenheid in jou lewe te behaal en te handhaaf moet jy vandag ‘n dankbaarheidslys maak. Ek moedig jou aan om ‘n lys te maak oor alles waarvoor jy dankbaar is in jou lewe. Dit gaan ‘n lang lys wees, omdat ons almal baie goed het waarvoor ons kan dankbaar wees. Sluit die klein dingetjies asook die groot goed in. Wanneer jy gelukkig is met jou dankbaarheidslys, plak dit êrens waar jy dit daagliks kan sien.
Wanneer mens WEET waarvoor jy dankbaar is, is dit makliker om terug te gee, uit te deel en dankbaarheid te betoon. Dankbaarheid word jou fokuspunt van waar jy jou besluite neem, gesprekke voer en mense se lewens raak en verander.
Bly glo.