Dagstukkies met Hugo 6 Desember 2019
Desember 6, 2019
Openbaring 4:2-3: #Kleur
“Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar iemand. Sy voorkoms was soos opal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.”
Op die troon sit God die Vader. En Johannes het ’n gebrek aan woorde om die heerlikheid en skoonheid en heiligheid van God te beskryf! Selfs al was sy pallet gevul met elke kleur van die reënboog, of met die glans van smarag. So heerlik en rein en oorweldigend is die teenwoordigheid van God, die aangesig van God, dat Johannes met min woorde aan die hand van ’n paar kosbare edelstene God beskryf. Opaal, karneool en smarag. En tog lê daar in elkeen van hierdie edelgesteentes betekenis opgesluit. Opaal – deursigtige steen soos ‘n diamant – ‘n simbool van heiligheid, heerlikheid, skoonheid en suiwerheid. Karneool – ‘n rooi steen wat iets van Goddelike oordeel uitbeeld. Smarag groen, genade en goedheid.
Vanaf die troon regeer God oor dit wat in die hemel aan die gebeur is, maar Hy regeer ook oor die skepping en regeer oor ons, sy skepsels. Alles is in hul bepaalde skeppingsorde. Hy is ten volle in beheer! En tog in die warboel van die uitdagings van ons hedendaagse lewe, en ‘n wêreld wat lyk of dit uitmekaar val, vra die mense vra oor waar God is?
God is steeds op Sy troon. Hy vrywaar ons nie van lyding nie, maar Hy staan by ons. Hy hou nie alle laste van ons af weg nie, maar Hy dra dit saam ons. Hy het die dood nie uitgeban nie, maar Hy het wel die mag daarvan gebreek. God het nie gekom om ons leed weg te neem nie. Hy het ook nie gekom om ons leed te verklaar nie. Hy vul net ons lewe en ons leed met Sy teenwoordigheid.
Die Here Jesus bemoedig Sy volgelinge: “Hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” Ons word in die brief aan die Hebreërs daaraan herinner dat “daar ook niks in die skepping is wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.” Heb 4:13. Ons dien ‘n kleurvolle, soewereine God, wat die begin tot die voleinding ken en nooit deur wêreldgebeure verras word nie.
Netso is Hy ten volle bewus van die gebeure in ons individuele lewens. As Christus se volgelinge erken ons egter dat ons perspektief altyd beperk is. Daar is ’n groter prentjie wat ons dikwels nie kan sien nie. God is steeds op Sy troon en Sy planne en doelwitte sal seëvier. Die hele geskiedenis is op pad na die dag wanneer “elke knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!” Fil 2:10-11.