Dagstukkies met Hugo 5 Desember 2019

Desember 5, 2019

 Markus 9:2-3#Kleur

Toe het Sy voorkoms voor hulle oë verander, en Sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.

Die Bybel sê dit is moontlik vir elke gelowige om die Here se heerlikheid te sien. In werklikheid sê God dat Hy Sy heerlikheid sal openbaar aan almal wat Hom daarvoor soek. Die openbaring van Sy heerlikheid is bedoel om ons toe te rus vir die storms van die lewe.  “…Sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.”  Wit is ‘n kleur, dit bevat alle kleure van die spektrum, maar wat presies is God se heerlikheid, en hoe lyk dit?  In eenvoudige terme is God se heerlikheid ‘n openbaring van Sy natuur en Sy karakter eienskappe. Wanneer die Here kies om aan ons Sy heerlikheid te wys, is dit ‘n openbaring van hoe Hy wil hê ons Hom moet ken.   Toe die Here vir Moses gestuur het om Israel te verlos, het Hy aan hom gesê, “Gaan en sê EK IS stuur jou.” Maar hy het geen verduideliking gegee van wie “EK IS” was nie.  Daarom het Moses uitgeroep, “Laat my tog u heerlikheid sien” (Exodus 33:18).   Moses het ‘n honger gehad om te weet wie die groot EK IS was en wat die kern van Sy natuur en karakter is.   God het Moses se gebed beantwoord.

Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie.   Jy sien, wanneer God sy heerlikheid openbaar, en Sy voorkoms voor hulle verander, en Sy klere blink word, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie, het Hy ‘n doel daarmee.   En Hy het toegelaat dat mense Sy heerlikheid sien, sodat die mense, deur die begrip daarvan, verander kan word.  Dieselfde is vir ons waar vandag.  God openbaar Sy heerlikheid aan ons sodat ons gerusgestel kan word in ons daaglikse wandel.  Jesus Christus is die uitdruklike beeld van God. Die Vader het Sy hele karakter in die Seun opgesom. Toe die Here vlees geword het, was dit die volle openbaring van God se natuur, Sy genade, Sy goedheid en Sy gereedheid om te vergewe. Dieselfde is waar vir enigiemand wat die openbaring van God se heerlikheid ontvang. Ons wat in Christus is, is bedoel om verander te word in die uitdrukking van God se liefdevolle, vergewende, genadige natuur.

Paulus sê dat wanneer ons God se sien, dit krag het om die een wat Hom sien, te verander: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is” (2 Korintiërs 3:18).Hou aan om God se heerlikheid te soek totdat die openbaring daarvan in jou oopbars!  Die eerste effek van God se heerlikheid is ‘n verandering in ons verhouding met Hom.  Mag jy so aangeraak word deur God se heerlikheid wat jou lewe aanraak, deur dit wat jy sien en beleef — hoe genadig, geduldig en liefdevol God is met sy kinders, selfs hulle wat Hom bedroef het — dat jy in verwondering Hom sal aanbid.  Die kennis van die glans van Sy heerlikheid, Sy natuur en karakter, dra ons na ‘n plek van totale rus. Inderdaad, wanneer ons eers hierdie openbaring van God se heerlikheid het, het ons nooit weer nodig om te vrees nie. Vir die wat God aanbid, hulle sien Sy heerlikheid in Sy liefde teenoor mense en hulle gryp daardie heerlikheid vas om hulle besorgde siele te laat bedaar.