Dagstukkies met Hugo 3 Desember 2019

Desember 3, 2019

 

 Eksodus 24:10#Kleur

En hulle het die God van Israel gesien en onder Sy voete net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.”

Waar sal ‘n mens begin om die grootheid van God te beskryf?  Miskien is ‘n eenvoudige opkyk na die hemelruim ‘n vertrekpunt.  Op ‘n pragtige sonskyndag is die hemele blou. Saffier is ook ‘n skakering van blou, en hier in Eksodus 24 is ‘n paar mense wat God se heerlikheid so aanskou het en ‘n poging aangewend om dit te beskryf.  Met ‘n opkyk!  En onder Sy voete was dit wat hulle aanskou het net soos ‘n vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.  Wat ‘n gesig!  Dalk is dit ook vir jou ‘n vertrekpunt van waar jy jouself op die oomblik bevind.  ‘n Opkyk aksie!  Want opkyk beteken ook wegkyk van al die omstandighede rondom jou.  Juis van daardie dinge hieronder wat jou aandag steel. Wat jou fokus op die mooi dinge verdof.  Dinge wat jou nie in verwondering bring nie, maar eerder jou van vreugde en vrede beroof.  God se onverklaarbare grootheid, selfs in die hemelblou waar Hy sy voete neersit, Sy vloerbank, kan jou perspektief op die hele lewe verander.

Of, kyk net vir ‘n oomblik by die venster uit, maak nie saak of jy in die platteland of die stad is nie.  Of dit nog baie donker of al effens lig is nie,  jy word omring deur ‘n kleur pallet van God se skepping.  Daar is die groot onbeskryflike dinge soos die son, die breek van ‘n nuwe dag, die maan en die melkweg, en al die ander wonders van die heelal.  Daar is ook die wonders van die aarde, soos die hemel hoë berge, die golwende see en die geluid van brullende leeus.  God het beslis ongelooflike groot dinge geskep.  Maar, kyk dalk ‘n bietjie nader, kyk so bietjie na die klein dingetjies – ondersoek ‘n boomblaar; die fyn vlerke van ‘n skoenlapper en die volmaaktheid van ‘n spinnekop se web.  Tel jou hand op en kyk na die klein riffeltjies van jou vingerafdruk.  ‘n Vingerafdruk wat God vir jou, net vir jou gegee het.

Ons God, wat Sy voete neersit op ‘n vloerbank van saffierstene, verstom ons nie net met die groot dinge in die skepping nie, Hy verstom ons ook met die aandag wat Hy selfs aan die kleinste dingetjies gee.  Maar groter as alles, Hy slaan ons asem weg met die gedagte dat Hy ons, die mens, die kroon van Sy skepping gemaak het.  En dat Hy ons so lief gehad het, dat die Vader Sy seun gestuur het om die hele wêreld se ongeregtighede op Hom te neem, vir ons die prys van Verlossing te betaal, sodat ons nou kinders is, vrygekooptes, deurgekoopte kinders, met ‘n groot, onbeskryflike Hemelse Vader.  ‘n God wat skep met uitnemendheid.