Dagstukkies met Hugo 23 Oktober 2019

Oktober 23, 2019

Jakobus 5:19#Gesondheid

En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak.  As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.  Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”

Jesus se omgee hart klop innig en warm vir almal wat siek is.  Ongelukkig is siekte deel van hierdie sondige wêreld waarin ons leef.  Toe sonde in die wêreld ingekom het, het die dood en siekte ons metgeselle geword.  Daarom dat hospitale oorloop van stukkende mense wat deur siekte geteister word.  Gelukkig weet ons as gelowiges dat siekte en die dood Jesus se vyande is.  En dat Hy die vyand oorwin in elke opsig.  Mense wil graag altyd siekte aan die een of ander negatiewe oorsaak toeskryf, maar, inteendeel, Jesus wil juis God se heerlikheid openbaar deur siekte aan te raak.  Die genesende hand van Jesus is juis die geleentheid om die wêreld te wys wie God is en hoeveel Hy Hom ontferm oor stukkendes en siekes.  Siekte is deel van ons aardse bestaan, deel van die gebrokenheid van die wêreld, van verganklikheid.  Soms tref dit elkeen van ons.  Tog verseker Jesus ons dat Hy ons nie alleen los in ons lyding nie.  Hy is elke dag by ons.  Hy laat God se lig self in en deur ons siekte helder skyn.  Sulke oomblikke is Goddelike geleenthede.  Baie mense worstel met die vraag oor waar God is in die tyd van siekte en lyding.  God vrywaar ons nie van lyding nie,  maar Hy staan by ons.  Hy hou nie alle laste van ons af weg nie,  maar Hy dra dit saam ons.   Hy het die dood nie uitgeban nie,  maar Hy het wel die mag daarvan gebreek.  En hier is die groot antwoord wat my al baie keer in my eie lewe moed gegee het om aan te hou:   Jesus het nie gekom om ons leed weg te neem nie.  Hy het ook nie gekom om ons leed te verklaar nie.  Hy vul net ons lewe en ons leed met Sy teenwoordigheid.

Christus se hand is sag en sy hart raak week wanneer siekte mense laat krom loop van pyn en wanneer hulle liggaam stukkend raak.  Daarom het Hy gereeld by die siekes tot stilstand gekom en hulle lewe met hemelse genade aangeraak.  Dink maar net aan die melaatse wat voor Hom neergeval het met die smeekgebed dat Hy hom kan genees as Hy wil.  Toe sê Jesus kort en kragtig: “Ek wil, word gesond”.  So lyk hemelse genade in aksie.  Deur die bloed van Christus is daar vir ons genesing vir ons ons liggame saam met die vrymaking en vergifnis van sonde.  Daarom dat elke denkbare siekte in Jesus se omgewing tweede gekom het.  So ook die dood.  Die geheim is om te bid wanneer jy siek is en die Here te vertrou vir genesing.  Hy is immers nou nog die een wat siekte en die dood oorwin het.  Glo dat die Here kan genees, maar vertrou Hom ook vir die manier waarop Hy in jou liggaam werk tot Sy eer.  Soms gebeur dit dat jy siekte moet verduur sonder ooglopende beterskap, wees dan ‘n getuie vir Hom in die moedige manier waarop jy jou las en jou pyn dra.  Verheerlik die Here in alles wat jy sê en doen.  Moenie die knie buig voor moedeloosheid en ongeloof nie.  Vertrou die Here deur dik en dun, want Hy is ook genoem Jehova Rapha – “Ek is die Here jou Geneesheer” of “Ek is die Here wat genees”.    Jesus het vir ons siektes, pyn, oortredings, verderflikheid, ons vrede en ons genesing gesterf, want “deur Sý wonde het daar vir ons genesing gekom”.