Dagstukkies met Henry 30 Augustus 2019

Augustus 30, 2019

30 AUGUSTUS 2019

Job 22:21  #Onderdanig

“Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê.”

Voorspoed en vrede is die vrug van ‘n lewe wat aan God onderwerp is. Ek ken baie mense wat meer as genoeg het, maar geen vrede het nie. Al hulle skatte hou hulle wakker in die aand. Jy kan suksesvol wees of sukses bereik sonder God (al is dit God wat jou die gawes gegee het). Vrede kan nie gewin word sonder die Here nie. Hoe wonderlik is dit om albei sigbaar in jou lewe te kan hê. Vrede en voorspoed! Al wat ons moet doen is om te leer om onsself te onderwerp aan die Here. Ons moet elke uitdaging en vorm van verwerping aanpak met God ingedagte.

Wanneer ek glo, sal ek ook vertrou en wanneer ek vertrou sal ek ook myself kan onderwerp. Jesus sê in Johannes 14 dat ons nie angstig moet raak of vrees nie, want Hy gee vir ons Sy vrede (die kennis van wie Hy is deur Woord, waarheid en Gees).

Ons moet vertrou op God se karakter al sien ons Hom nie in alle omstandighede raak nie. Bly glo, bly getrou en jy kan jouself in alles aan God onderwerp totdat die vrugte van vrede en voorspoed jou vooruitgaan.

Sê bietjie prys die Here!