Dagstukkies met Henry 24 Desember 2019

Desember 24, 2019

Miga 5:2 #Verlosser

“En jy, Bethlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n heerser in Israel sal wees; en Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.”

Hier is ‘n verwysing na die tipe leierskap wat Jesus sal verteenwoordig. Dawid is ’n man na God se hart wat God in die publiek wil bekend maak, sodat almal vir God kan aanbid en leef uit eerbied en liefde vir God. Dawid was ’n herder voordat hy as koning gesalf is. Dit is Jesus ook. Hy lewe vir God en daardie liefde loop oor in liefde vir mense. Jesus is ’n herder en vir Sy kudde beteken dit dat Hy ’n Verlosser is vir wat bedreig word deur alle aanvalle wat een van Sy kinders bedreig.

Dawid weet wat dit beteken om teen ‘n leeu en ’n beer te veg ter wille van ’n skaap se lewe. Jesus het ook Sy lewe vir ons neergelê, nog voordat ons Hom erken het as saligmaker en verlosser. Sonder enige waarborg dat ons Hom sal aanneem, het Hy hierdie genadegeskenk reeds aan ons gegee. Hy het Sy herdershart aan ons openbaar. Herders lê hulle lewens af vir dit wat aan hulle behoort.

Sê bietjie prys die Here!