Dagstukkies met Helané 4 April 2019

April 4, 2019

Matteus 13: 45 -46:  #Waardevol

4 APRIL 2019

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het en koop dit.”

In hierdie gelykenis het Jesus basies sy kruisiging kom bevestig.  Jesus is die Koopman wat Sy lewe sal opoffer vir Sy pêrels, die kerk.  Maar hoekom word ons spesifiek vergelyk met pêrels? Kom ons gaan sit weer terug in ons skoolbanke in die biologieklas.  Pêrels word gevorm wanneer ‘n sandkorrel, of vreemde en uitheemse voorwerp, die skulp betree.  Dit is wanneer sonde ons lewens en harte infiltreer. Die proses wat dan binne die skulp plaasvind bestaan uit geweldige irritasie en pyn.   Die oester begin dan om ‘n beskermende vloeistof af te skei wat laag vir laag vorm en dan uiteindelik ‘n pragtige en waardevolle pêrel vorm.  Hierdie beskermende vloeistof kan so baie simboliseer wat die houvas van sonde in ons lewe kan vernietig.  Die Woord van God, die wapenrusting van God, gebed, aanbidding, ens.

Jesaja 66:9 sê:  Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die Here. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit? sê jou God.”  Die Here sal nie pyn in ons lewens veroorsaak sonder dat wysheid, vergifnis en karakter daaruit “gebore” word nie.  Hy gebruik dit dan juis vir die herstel van huwelike, families en ander verhoudings. Moet nooit dink dat jou donker en aaklige verlede verniet was nie of dat dit jou identiteit is nie of selfs dat God jou verlaat het nie.  Terwyl die pêrel gevorm was in die diepste en donkerste oseaan, was dit die heeltyd beskerm deur die harde skulp.  Die Here weet dat as ons volharding beoefen ten spyte van ons omstandighede en op Hom fokus sal ons ryk wees van goddelike karakter, barmhartigheid en ontferming.  Ons is kosbare pêrels as gevolg van Jesus se liefde, genade en beskerming.

Jesus Liefde