Dagstukkies met Helané 2 April 2019

April 2, 2019


2 APRIL 2019

Psalm 139: 13 – 14:  #Waardevol

“U het my gevorm, my aanmekaar geweef in die skoot van my moeder.  Ek wil U loof, want U het my op ‘n wonderbaarlike wyse geskep.”

Het jy al ooit voor die spieël gestaan en fout gevind met jou liggaam, met jou persoonlikheid en selfs met jou geestesgesondheid?  Troos jouself in die feit, in die waarheid, dat God jou geskape het, net soos jy is, vir ‘n baie goeie rede.  Die druk wat jy ervaar om soos ander mense te wees kom glad nie van die Here af nie.  As Hy nie eens wil hê dat ‘n sneeuvlokkie soos die volgende een moet lyk nie wil Hy verseker nie hê dat jy moet wees soos jou buurvrou, buurman, kollegas of vriende nie.

Ek is baie lief daarvoor om die storie te hoor wat my ma altyd vertel hoe sy my hoor sing het terwyl ek nog in haar maag was! Dit is presies wat ek vandag doen wanneer ek teneergedruk en hopeloos voel.  Ek sing vir die Here want ek weet dit is hoe ek my stryd teen die vyand wen.  Die Here weet op watter manier ons elkeen “geniet” om vir Hom te aanbid, want Hy plant dit in ons DNA – dit is deel van ons!  Ons is immers geskape om hom te loof en prys. Het jy al ooit daaraan gedink, dat om jouself te aanvaar soos wat jy is en dankbaar te wees daarvoor, is ‘n vorm van aanbidding tot die Vader?  Hy maak nie foute nie.  En jy is nie ‘n fout nie!

Jou persoonlikheid, temperament en veral jou geskiedenis gebruik Hy ten goede mee en om Sy naam te eer.  Want iewers in die wêreld, in jou straat en by jou werk sit iemand met ‘n groot stryd in sy of haar lewe waarin net JY kan hoop  en lewe inspreek as gevolg van hoe God jou geskape het en waardeur jy is in die lewe.  Jou lewe het ‘n waardevolle doel vir Jesus se koninkryk.  Jy moet dit net begin glo!

Jesus Liefde