Dagstukkies met Elize Parker 31 Desember 2019
Desember 31, 2019
Hart van ons huis
Ek wil probeer leef soos U wil hê. Wanneer kom U na my toe? Daar by my huis wil ek so leef dat U daarop trots kan wees. – Psalm 101:2
In my kleintyd was die lewe baie stadiger. Mense het tyd vir mekaar gemaak. Daar het baie gaste in ons huis gekom en gegaan.
Ons het ‘n huis met my ouma aan moederskant gedeel. Sy het ses kinders gehad en was self een van dertien kinders. Daar was dus ‘n groot uitgebreide familie wat mekaar gereeld wou sien. Ons het ook ‘n kothuis in die agterplaas gehad wat vir enige iemand met huisnood oopgestaan het, asook vir diegene met ‘n familielid in ‘n nabygeleë hospitaal.
Toe my ouma sterf, het die besoekers al hoe minder geword. Baie dae het my ma die verlange uitgespreek om weer so ‘n besige huis soos van weleer te hê. Die familie was almal goeie storievertellers met uiteenlopende lewens. Sy het ook na hul gesprekke en uirstappies verlang en gereeld gesug dat iemand tog net moet kom inloer. Sy het ‘n beoefte aan nabyheid van bekendes gehad.
Ek het so ‘n versugtiging dat Jesus altyd by my in my huis moet wees. Maar dit is ‘n behoefte dat Hy my tuiste sal seën met Sy permanete nabyheid, nie kortstondig soos ‘n besoeker nie. My hart is waar Jesus is. Ek hoef nie soos die Psalmdigter of my ma se versugting uit te spreek vir ‘n kuiergas om in te loer nie. Jesus is reeds ingenooi en maak van ons woning ‘n tuiste.
Met Hom hier is daar vrede in elke vertrek en stilte in elke hart. Regverdigheid heers en rus is ons kopkussing saans. Met Jesus in die huis kan almal bedaar. Hy is volmaak in beheer van wie kom en gaan. En vir wie die deur van die ewige tuiste oopstaan.
Jesus, net U kan ons huise plekke van vrede maak. Ons bid dat die rus wat ons net by U kan vind in ons harte sal heers en dat U liefde ons as inwoners en ons besoekers sal dra.