Dagstukkies met Elize Parker 30 Desember 2019

Desember 30, 2019

Vashoutye

Net Ek kan sê wat uiteindelik gaan gebeur. Ek kan voor die tyd al praat oor die dinge wat selfs nog nie eens gebeur het nie. Wat ek wil laat gebeur, gebeur uiteindelik.

Jes 46:10

Soms voel ‘n mens onvermyndelik of jou lewe ‘n klimtol is. Omstandighede verander vinnig, beloftes word verbreek en onsekerhede maak jou bang. Juis dan hou die Vader se planmatigheid ons staande en kan ons daaraan vashou.

Om deurlopend met hierdie vertroue te leef, moet in in Sy plan vir ons lewens glo en daarna streef om in Sy wil te lewe, want die Vader is almagtig om orde te skep in ons lewens. Hy hou dan elke dag Sy skepping in stand. Die son kom op, die son gaan onder. Seisoene wissel mekaar af.

Die Vader se skeppingshand bring orde. Nooit chaos nie. Hoekom sal Hy dan nie ons lewens ordelik wil laat verloop nie?

Hy het die skepping se verloop van die eerste dag af beplan. So is ons lewens ook uitgelê voordat ons ons eerste asemteug gegee het.

Al wat ons moet doen, is om toe te laat dat God se raad ons voete rig. Hierdie raad word deur die Heilige Gees aan ons gegee.

Om God se almagtige werking in ons lewens te ervaar, is dit dus noodsaaklik dat ons ons oorgee aan God se leiding. Hy sal die orde herstel en ons klimtollewens tot rus bring.

Liefdevolle Vader, laat ons vandag u ondersteuning en U vriendskap ervaar. Laat ons deel in U vrede en rus, Here, sodat ons verstandige besluite kan neem wat kalmte in ons lewens kan bring.

 

(Vandag se Dagstukkies met… is geneem uitHoor God se Stem, uitgegee deur Struik Christelike Media in 2014, geskryf deur Elize Parker.)