Dagstukkies met Elize 21 Junie 2019

Junie 21, 2019

Eksodus 3:2#Vuur

21 Junie 2019

Skielik het die engel van God aan hom verskyn in ‘n vlam wat in ‘n bos brand. Moses was verwonderd, want die bos het aanhou brand, maar dit het nie uitgebrand nie.”

Daar is baie gevoelens wat by mens opkom wanneer jy na ‘n vuur staar.  ‘n Kampvuur in die bosveld teen middernag of ‘n kaggelvuur in jou eie huis, gaan jou nie dieselde laat voel nie.

Daar is tye wat ‘n vuur kan woed soos in ‘n bergbrand, maar ook tye wat dit smeul soos met ‘n brand in fynbos.  Daar is tye wat die veld ‘n brand nodig het sodat sade kan oopkraak. Daar is ook tye wat die veld dit nie kan bekostig nie soos tydens ‘n droogte. Eintlik is alle vuur en brande vir ons ‘n geheimenis.

In Eksodus sien ons hoe God hierdie natuurverskynsel gebruik om met Moses te praat. Ook die skielike fenomeen laat hom sy skoene uittrek en sy hoof buig. God se boodskappe aan ons is dikwels ‘n skielike verrassing soos die vuurbos vir Moses was. Ons twyfel dan of dit van Hom kom. Ontsag sal ons egter nader aan sy openbaring bring. Hoe ons ookal God se stem hoor, daar is altyd seën in sy verklarings oor ons lewens. Ons kan luister met die wete dat selfs die vure van ons lewens verkondig sy Naam.

Vrede / Shalom