Dagstukkies met Dennis Francis Opsomming Week 3

Januarie 20, 2019

Opsomming 19 JANUARIE 2019

Dit is weer tyd vir die opsomming vir die derde week se Dagstukkies. Hierdie week was ons bevoorreg om ‘n reis te onderneem op die geestelike pad.

Psalm 23:4 bemoedig Dawid ons met die woorde: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf die vertroos my.” Die Nuwe vertaling druk dit in nog meer duidelike taal uit: “Al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.”

Elke mens – ongeag wie jy is nie, is op een of ander reis, sommige langs moeilike paaie, daarom bemoedig die profeet Jeremia die volk wat in ballingskap is met die woorde in Jerm.29:11: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

Op hierdie reistog is daar baie ontberings, baie gevare waaraan mense blootgestel word, maar dan kry ons die versekering in die woord van die Here , Psalm 91:11 : “Want Hy sal Sy engele bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” God is nie ‘n mens dat Hy sou lieg nie, want al het Hy tot Sy skade gesweer Hy verander nie, daarom kan ons op Hom vertrou, want Hy is ‘n waarmaker van sy woord.

Spreuke  3:5-6 onderrig ons: “Vertrou die Here met jou hele hart, en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.” Om God te ken op al jou weë, is om Sy woord te ken en dit te lewe, want die woord in Psalm 119:105 sê: “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. “

Ek hoop dat u ‘n seën uit die Dagstukkies geput het. Ons kyk uit na volgende week se tema oor #gehoorsaamheid. U kan ook inskakel elke dag op www.tygerberg104fm.co.za/blog/ vir jou Dagstukkies met Dennis Francis.

Vrede / Shalom.