Dagstukkies met Dennis Francis 9 Januarie 2019
Januarie 9, 2019
Handelinge 19:11-12: #Wonderwerk
“En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen, sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk het en die bose geeste van hulle uitgegaan het.”
Ons dank die Here dat Hy mense as instrumente gebruik om Sy wonderwerke ten toon te stel. In Johannes 14:12 sê Jesus: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle , wie in My glo – die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na My Vader gaan.”
Jesus het belowe dat as ons glo, groter wonderwerke sal gebeur. Paulus, eens ‘n vervolger van die Weg , maar later ‘n volger van die Weg, ervaar God se krag. God gee aan hom openbaringskennis deur hom magtig te gebruik om sy hande op die siekes te lê. Die salwing van genesing was so geweldig dat selfs die voorskote (klere) wat aan sy liggaam was op siekes gelê was en hulle het gesond geword.
Ek kan onthou nog ‘n paar jaar gelede toe ‘n bedleênde vrou haar hand op die radio gelê het, as ‘n punt van kontak, sonder dat daar vir haar spesifiek gebid was en hoe sy vertel dat sy die volgende oggend opgestaan het, onbewus van haar toestand en toe sy amper naby die kleedkamer kom, toe eers besef sy dat sy gisteraand nog bedleênd was en hier stap sy fris en gesond. Die Here het ‘n wonderwerk gedoen. Haar geloof het haar genees.
God kan nog wonderwerke doen. Hy is nog dieselfde Jesus. Die wonderwerkende Jesus, daarom is dit die moeite werd om op Hom te vertrou maak nie saak wat jou situasie is nie.
Vrede / Shalom