Dagstukkies met Dennis Francis 8 Januarie 2019

Januarie 8, 2019

Matteus 21:21 : #Wonderwerk

8 JANUARIE 2019

“Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê  julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see – sal dit gebeur.”

Jesus die Seun van God was honderd persent God en ook honderd persent mens, daarom toe Hy honger word en die vyeboom langs die pad sien staan het Hy met daardie verwagting gegaan dat Hy vye aan die boom sal kry. Maar groot was Sy teleurstelling toe Hy geen vye aan die boom kry nie, maar net blare en Hy sê: Laat daar uit jou tot in ewigheid nooit weer ‘n vrug kom nie! En onmiddelik het die vyeboom verdroog.

Sy dissipels was verbaas en verwonderd. Vir enige wonderwerk om plaas te vind moet daar geloof wees. Die vraag wat baie mense vra is: Wat is geloof? Heb.11:1 verklaar: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Ons vertroue en ons hoop moet so sterk in die Here wees, dat ons dit roep wat nie bestaan nie asof dit bestaan.

Joh.15:7 sê: “As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê en julle sal dit verkry.” Daarom moet ons verstaan wat die perfekte en volmaakte wil van God is sodat God die onmoontlike moontlik kan maak.

Vrede / Shalom