Dagstukkies met Dennis Francis 7 Januarie 2019

Januarie 7, 2019

Jeremia 32:27: #Wonderwerk

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 7 JANUARIE 2019

“Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees,: sou enige ding vir My te wonderbaar wees?”

Groot Almagtige God, niks kan voor Hom stand hou nie. God gebruik Jeremia, die profeet, om sy woorde van troos tot Sy volk te spreek wat weggevoer is in ballingskap.

In Jeremia 29:11 verklaar Hy: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!

(AFR83: Afrikaans 1983)

Miskien het die volk onder mekaar gesels en gewonder hoe hulle hoopvol kon wees. Hulle was in ‘n vreemde land, weg van hul huise, dit wat vir hul belangrik was en hul was in ballingskap,

Soos die bekende Boney M liedjie, Rivers of Babylon, wat weer onlangs gedurende die feestyd in winkelsentrums gespeel het, kon hul moontlik vra: “hoe moet ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land?” Maar in Jeremia 29:12-13 vind hul weer bemoediging: “Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.”

Daarom spreek Jeremia in hoofstuk 32:27: “Kyk, Ek is die Here, die God van alle vlees…” Met ander woorde, die Here sê vir hulle dat Hy die Skepper is, dat Hy ons vorm van die stof van die aarde. Jesus ken ons gedagtes soos Hy ook toe Sy volk se gedagtes, vrese en hoop geken het.

Hy is steeds die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy is vandag jou en my God wat mense gesond maak, wat ons red, wat vir ons hoop is en gee. Sou enige ding vir Hom te wonderbaar wees?

Vrede/Shalom