Dagstukkies met Dennis Francis 2 Januarie 2019

Januarie 2, 2019

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 2 JANUARIE 2019

Jesaja 43:19: NUWE BEGIN

“Kyk, Ek gaan iets nuuts maak, nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn en riviere in die wildernis.”

Wanneer ons die vorige verse lees, veral vanaf vers 16 dan herinner God die volk Israel, wat nou in Babel in ballingskap is, dat dit Hy is wat die groot waters gekloof het.

Dit word juis gedoen om hulle geloof in God te versterk. Maar hier in vers 18 sê die woord: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.”

Ons moet dit sien in die konteks wat dit geplaas is, want dit het hulle laat dink aan die uittog uit Egipte en hier is hulle nou in ballingskap. Hoe maklik kan ‘n mens kyk op die verlede en vergeet dat God is nog dieselde wat verlossing kan bied.

Die keer is God se nuwe verlossingsdaad nog heerliker. Israel in ballingskap het aan God se groot verlossingsdade gedink en al dieper onder die indruk gekom van hulle ellende. Daarom het die profeet aan hulle gesê: “Dink nie aan die vorige dinge nie; kyk, Ek gaan iets nuuts doen. Hy is ‘n God van nuwe dinge, daarom moet hulle hul oë op die toekoms hou.

God gaan ‘n nuwe ding met hulle maak, hulle gaan ‘n nuwe uittog tegemoet, die verlossing uit Babel, gaan ‘n veel heerliker verlossingsdaad wees as dié uit Egipte. Dis ‘n nuwe jaar, 2018 met al sy omstandighede is verby, kyk sê die Here, Ek gaan iets nuuts doen. God gaan weë baan, waar daar nie is nie. Plaas jou vertroue totaal op die Here want, Hy is die God van nuwe dinge.

Vrede / Shalom