Dagstukkies met Dennis Francis 18 Januarie 2019

Januarie 18, 2019

Psalm 119:105:  #Reistog

18 JANUARIE 2019

“U woord is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig vir my pad.”

Ons lees in Mateus. 25 van die tien maagde wat op die koms van die bruidegom gewag het. Vyf van hulle het ekstra olie vir hulle lampe saamgebring en die ander vyf nie. Met die gevolg toe die bruidegom kom, was die vyf sonder die ekstra olie se lampe dood, maar die met die ekstra olie kon die bruidegom tegemoet gaan.

Dit is duidelik dat ons op die geestelike pad ekstra krag moet hê om die reis end uit vol te maak. Hierdie ekstra krag lê in konstante gebed en vas. Met die ekstra olie dan in ons lampe verseker dit dat ons lampe nie sal doodgaan en ons nie sal  struikel op die pad nie. Op jou lewensreis moet jou lamp aan die brand bly sodat jy veilig anderkant by jou bestemming kan uitkom.

Johannes 1:4-5 verklaar: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense en die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.” Jesus sê in Matteus 5:14: “Julle is die lig van die wêreld”. In vers 16: “Laat julle lig so skyn voor die mense , dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Daarom moet die woord van die Here ryklik in ons woon, want Psalm 119:130 sê: “Die opening van U woord gee lig; dit maak die eenvoudige verstandig. Die koordigter sê: “Al sê die mense wat! Hou jy jou lamp aan die brand.”

Vrede / Shalom