Dagstukkies met Dennis Francis 15 Januarie 2019

Januarie 15, 2019

Jeremia 29:11:  #Reistog

15 JANUARIE 2019

“Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

As daar een iets is wat God nie wil hê vir Sy kinders nie dit is om te stagneer of op die ashoop te gaan sit en hulle self te bejammer.  Soms neem die Here ons op ‘n ompad om die mens tot hul sinne te bring. In hierdie geval was die kinders van Israel as ballinge weggevoer, weg van hulle geliefdes, weg van hul families.

Op hierdie reistog was daar baie ontberings, baie gevare wat hulle moes trotseer. So bevind so baie mense hulle in hierdie tyd in ‘n geestelike ballingskap. Hierdie tipe reis bring soms baie hartseer en mismoedigheid.

Maar ons dien ‘n God van hoop om ons op die reistog te versterk, te vertroos en te bemoedig om die reis end uit te hou tot dat ons, ons bestemming bereik. Jeremia 29:11 bemoedig die reisiger met die woorde: “Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”

Dit gee ons daardie geloofsversekering dat wat ookal op hierdie pad kom; daar lê vir ons ‘n hoopvolle toekoms vol van die vrede van God vir ons voor. Ons reis sal voorspoedig wees, ‘n toekoms vol hoop.  Dit is wat die Here beplan vir Sy kinders wat hulle verlustig in die Here en Hom altyd in erkentenis neem.

Vrede / Shalom