Dagstukkies met Dennis Francis 14 Januarie 2019

Januarie 14, 2019

Psalm 23:4:  #Reistog

14 JANUARIE 2019

“Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my, U stok en U staf die vertroos my.”

Elke mens is op ‘n reistog deur die lewe. In die Bybel in Praktyk lees bogenoemde vers as volg: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig.” Op hierdie lewenstog het die mens nie ‘n keuse nie, maar om elke dag vorentoe te beweeg, want tyd staan nie stil nie.

Op hierdie lewensreis is ons nie gevrywaar van donker dieptes of ‘n dal van doodskaduwee nie, met ander woorde, daar gaan lewensgevare wees, benoude oomblikke wees, maar te midde van dit alles het ons die versekering dat God is met ons. Die 1953 vertaling sê Dawid: “Ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my…” Die multivertaling Bybel sê: “Want U is by my. In U hande is ek veilig”

Ons reistog is na die ewige lewe, om daar te kom moet ons deur die doodsvallei gaan. Om daar uit te kom is daar net een wat ons veilig anderkant kan uitbring naamlik: die God van die ewige lewe, onse Vader! Daarom het ons die bewarende hand van die Here nodig op ons reistog.

Vrede / Shalom