Dagstukkies met Dennis Francis 1 Januarie 2019
Januarie 1, 2019
DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS 1 JANUARIE 2019
ESEG.36:26 #NUWE BEGIN
“En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees weg neem en julle ‘n hart van vlees gee.”
Die woord van die Here is elke dag nuut en nuttig tot lering, tot onderwysing, tot bemoediging, tot teregwysing en tot stigting. Apostel Paulus skryf in Rom 12:2: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevalle en volmaakte wil van God is.”
Om die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God te verstaan, is dit noodsaaklik om meer van Sy woord in ons hart te bewaar. Psalm 119:11 verklaar: “Ek het U woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” Wanneer die woord van die Here in ons hart gegrond is, kan die vyand nie in kom en ons lewe beheer nie, want Joh.1:1 sê:”In die begin was die Woord en die woord was by God en die woord was God.” Daarom as die woord in ons hart is dan kan niemand in ons hart beheer, behalwe die Here.
Joshua kry die opdrag in Josh. 1:8 “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy met goeie gevolg handel.”
God wil vandag daardie hart van klip uit jou binneste uit haal en ‘n hart van vlees in jou binneste gee, ‘n hart wat opreg is met almal; ‘n hart gereinig van alle dooie werke.