Dagstukkies met Dennis Francis 1 Februarie 2019
Februarie 1, 2019
Jesaja 41:10: #Beskerming
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God, Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met My reddende regterhand.”
Met Israel so lank in ballingskap, het hulle al begin glo dat God hulle vergeet het. Die omstandighede was nie altyd maklik nie. So is dit in vandag se lewe ook, want baie ervaar dieselfde gevoel van verlatenheid wanneer ons deur donker dieptes van benoudheid moet gaan; dan pak vrees en angs die mens toe.
Die oomblik toe ons die dokter se diagnose gehoor het en wanneer niks meer gedoen kan word nie, dan voel jy platgeslaan asof alles in duie stort. Maar dit is juis daardie oomblik wat die woord van die Here sê: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou…Ek die Almagtige …Ek wat is, wat was en wat altyd tot in ewigheid sal wees, Ek is met jou.
God gee ons daardie versekering dat Hy met ons is, dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie. In Sy teenwoordigheid is ons veilig, daarom hoef Israel nie te vrees nie, want dit was juis die doel om Israel hierdeur bewus te maak dat te midde van ballingskap, God hulle hand neem, hulle ondersteun met Sy reddende regterhand.
Met hierdie versekering, selfs tot vandag toe, is God altyd daar om ons te beskerm en ons deur al die gevare van die lewe te dra. Daarom kan ons die lewe aanpak met nuwe ywer en moed, want ons is in die beskerming van die Allerhoogste.
Vrede / Shalom.