Dagstukkies met Dennis 9 September 2019
September 9, 2019
Lukas 8: 14-15: #Groei
“Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die Woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. Die deel wat in goeie grond val dui op dié wat die Woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”
Hier het Jesus die gelykenis van die saaier aan die groot menigte uit die verskillende stede vertel. Hier beeld Jesus uit hoe die saad op verskillende plekke val en hoe die reaksie is. Elke saaier, glo ek, sal wil sien dat die saad wat hy gesaai het, op moet kom en groei en die vrug voortbring.
Verskillende oppervlakke lewer verskillende resultate. Lukas 8:14 verklaar dat die saad wat tussen die dorings geval het, het opgekom, maar dit het verstik. Dit het die saad dood gedruk en tot vandag toe verstik die sorge van die lewe, rykdom en genietinge van die lewe die groei van die geestelike lewe. Daarom moet ons seker maak dat die grond goed voorberei word vir die saad om te groei.
Die saad wat in die goeie grond gesaai was het opgekom en goeie vrug opgelewer. In elke mens se lewe is die potensiaal om baie vrug te kan dra, daarom moet ons die grond gereed maak, sodat wanneer die goeie saad gesaai word, dit verder kan groei.
Vrede / Shalom