Dagstukkies met Dennis 9 Julie 2019

Julie 9, 2019

9 JULIE 2019

Romeine 8:25:  #Geduld

“Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.”

Paulus skryf tog so ‘n ware ding, want as daar iets is waarop ons hoop dan maak dit nie saak hoe lank ons wag nie, want dit waarvoor ons wag maak dit die moeite werd. Dit is juis in Romeine 5:5 waar die Woord verklaar: “En die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uit gestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.”

Ek kan onthou as kind was ons hoop gevestig as ons die werk verrig het, dan was daar ‘n beloning wat vir ons gewag het. Baie kere moes ons baie dinge deurmaak, maar net die wete van die beloning het ons dit met nuwe ywer verrig. ‘n Mens het geduld en deursettingsvermoë nodig om alles sorgvuldig te doen.

Wanneer ons lees in 2 Korintiërs 4:16-17 sê Paulus: “Daarom gee ons die moed nie op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe.” En dank Hom, dit waarop ons hoop en wag daarop met volharding in vers 17: “Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid. Daarom laat ons hoop wat ons nie sien nie, en daarop wag met geduld en volharding.

Vrede / Shalom