Dagstukkies met Dennis 8 Maart 2019

Maart 8, 2019

 

8 MAART 2019

Psalm 28:7:  #Blydskap

“Die Here is my sterkte en my skuld; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang.”

Psalm 28 staan ook bekend as die Dankpsalm. Dit is in hierdie Psalm wat Dawid sterk uitroep na God. ‘n Gebed om verlossing om vry te kom van die dinge rondom hom. In die Psalm hoor ‘n mens hulpkrete van ernstige uitroepe dat God moet ingryp en sy pleidooi is in vers twee: “Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van U Heiligdom.” Die word van die Here sê ook: Roep My aan in die dag van benoudheid. Ek sal jou uithelp, maar jy moet My eer, en dit is presies wat Dawid gedoen het.

So baie keer vergeet ons om net terug te kom om dankie te sê, om God te eer en Hom in erkentenis te neem. In vers ses begin Dawid God te loof en te prys, want hier alreeds erken hy dat God het sy pleidooi gehoor en sy gebed geantwoord het. Wanneer daar ‘n positiewe omwenteling in ‘n mens se lewe plaasvind, dan gee dit jou rede om God te verheerlik, want dit is net Sy genade en liefde wat dit kan doen.

Dawid sê sy hart jubel en juig. Hy wil sing, tot eer van die Here, ‘n gesang want die Here is sy sterkte en sy skild. In Hom, die God van die hemele en aarde is sy vertroue. God het die weeklaag en swaarmoedigheid omskep in blydskap en heerlikheid, daarom kan hy nie stilbly nie. Hy moet praat van die goedheid van die Here. Volkome blydskap laat jou verby die verskille kyk wat soms tussen mense verkeer.

Mag die Here ons help dat ons blydskap volkome sal wees en dat ons vriendelikheid aan alle mense bekend word.

Vrede /Shalom