Dagstukkies met Dennis 7 Mei 2019
Mei 7, 2019
Jesaja 25: 3-4: #Storms
“Daarom sal ‘n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees. Want U was ‘n vesting vir die arme, ‘n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was, ‘n skuilplek teen die stortreën, ‘n skaduwee teen die hitte – want die geblaas van die tiranne is soos ‘n stortreën teen ‘n muur.”
Wanneer ons in die 1953 vertaling lees, dan begin die hoofstuk met die opskrif: “Die Triomf” met ander woorde: Die oorwinning, “…omdat die Here is my God, want Hy het van ‘n stad ‘n hoop klippe gemaak…” Nasies sal Hom eer en die tirannieke nasies sal die Here vrees, want die Here was ‘n vesting vir die arme, ‘n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was, ‘n skuilplek teen die stortreën en ‘n skaduwee teen die hitte.
Wanneer ons die Here vrees en aanbid sal Hy ons beskut teen die storms van die lewe. Vir die arme is Hy ‘n skuilplek, die Woord sê: Die regverdige hardloop daarin en word beskut. Filippense 4:4 verklaar: “Verbly julle altyd in die Here, Ek herhaal: Verbly julle.”
Jou blydskap is jou beskutting teen die storms van die lewe wat jou wil bedreig. Psalm 91 se opskrif lui: In die beskerming van die Almagtige, vers 1 verklaar: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige en vers nege sê: “Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.”
Vrede / Shalom