Dagstukkies met Dennis 5 Maart 2019
Maart 5, 2019
Jesaja 12:5-6: #Blydskap
“Psalmsing tot eer van die Here, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde. Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.”
Wanneer die Here groot dinge vir ons gedoen het, dan vul Hy ons mond met ‘n nuwe lied, sodat ons Sy lof en eer kan besing. Dawid vra wat sal ek die Here vergelde vir al die weldade! Daarom in Psalm 103:2 sê hy: “Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van Sy weldade nie.”
God is groot en almagtig wat ons sterk maak vir enige uitdaging wat ons kant mag langs kom, want Hy is ons Rots en ons Bergvesting. In Hom sal ons altyd veilig wees. Hier in hulle ballingskap belowe God dat hulle bevryding gaan ervaar. Die loflied van die verlostes sal weerklink wanneer die verlossing plaasvind en die oorblyfsels, hulle wat die Here bewaar het, terugkeer.
In die derde vers word van beeldspraak gebruik waar die volk hul blydskap sal put uit die verlossing wat God bied. Wanneer daardie kragtige verlossing plaasvind, dan sal al die mense uitbreek in gejubel, mense sal dans want groot dinge het die Here vir hulle gedoen. Psalm 126:1-2 verklaar: “Toe die Here die lot van Sion verander het, toe is ons soos die wat droom, toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.”
Vrede / Shalom