Dagstukkies met Dennis 4 November 2019
November 4, 2019
1 Korintiërs 2:7 #Verborgenheid
“Wat ons verkondig, is die wysheid van God, verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.”
Die Bybel verklaar dat die letter dood is, maar die Gees maak dit lewendig. In hierdie hoofstuk bring Apostel Paulus die verskil tussen die wysheid van die wêreld en die wysheid van God na vore. Vers 5 verklaar: “Sodat julle geloof nie in wysheid van die mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.”
Die wysheid van die wêreld gaan verby, dit gaan tot niet, dit duur tot ‘n sekere tyd, dan verdwyn dit, want elke dag word iets nuuts ontdek. Maar Paulus spreek in 1 Korintiërs 2:7: “Wat ons verkondig, is die wysheid van God, verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.”
Die wysheid van God bring dus dit wat bedek was, dit wat verborge was, in die openbaar. Met ander woorde dit wat die wêreld nie ken nie, om ons as Sy kinders te versterk. Daarom sê die Woord: “ tot ons heerlikheid.” Daarom moet ons die Here aanbid met ons hele verstand en alles wat in ons is, want Hy wil Sy verborgenheid aan ons openbaar. Apostel Paulus skryf in die negende vers: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.”
Vrede / Shalom