Dagstukkies met Dennis 3 Oktober 2019
Oktober 3, 2019
Psalm 96:7-9 #Offer
“Prys die Here om die eer van Sy Naam! Kom na Sy voorhowe toe, bring vir Hom offers! Buig voor die Here by Sy heilige verskyning; betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.”
Dawid besef opnuut die pad waarlangs die Here hom gelei het en wat hy op sy pad ervaar het. Daarom spreek hy met vrymoedigheid en sê: Gee aan die Here. Die feit dat ons aan die Here gee, die Een wat Sy lewe vir ons gegee het, sodat ons kan lewe. Dit was die hoogste offer, die offer op Golgota. Johannes 3:16 verklaar: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”
God het Sy alles, Sy eniggebore Seun gegee, daarom sê Dawid: “Prys die Here om die eer van Sy Naam! Kom na Sy voorhowe toe, bring vir Hom offers! Buig voor die Here by Sy heilige verskyning; betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.”
Dit is belangrik dat ons ook ons alles op die altaar moet plaas, dat die woorde van ons mond aanneemlik en welbehaaglik sal wees by God. Spreuke 19:17 sê: “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde.”
Vrede / Shalom