Dagstukkies met Dennis 3 Julie 2019

Julie 3, 2019

Spreuke 29:11:  #Wysheid

“’n Dwaas uiter al sy woede, maar ‘n wyse gebruik sy verstand.”

3 JULIE 2019

In die tyd waarin ons leef het mense nie ruimte vir mekaar nie, want almal soek sy eie belange. Baie mense het al heen gegaan omdat hulle hul reg nie wou afgee nie. Prediker 7:9 verklaar: “Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergenis rus in die boesem van die dwase.” Dit is met hierdie dinge wat die vyand die mens mee besig hou, want alles moet volgens sy wil gaan, anders laat hy sy toorn ontvlam.

Wat die mens baie keer miskyk is dat die Woord in Prediker 7:11 sê: “Wysheid is net so goed as ‘n erfdeel en ‘n voordeel vir die wat die son sien.” Met ander woorde, vir elkeen wat die son sien, wat in die lewe is, is daar ‘n voordeel in, want jy sal ervaar die goedheid van die Here.

Dawid sê in Psalm 16:6 “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Daarom sê die Woord: “Want wysheid is ‘n beskutting…die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.” Dit is ‘n erfdeel vir elkeen wat in God glo.

Daar is geweldige keuses wat gemaak moet word.  Daarom moet ons die Gewer van wysheid raadpleeg om ons, in alles wat ons doen, wysheid te gee sodat ons veilig anderkant kan uit kom.

Vrede / Shalom