Dagstukkies met Dennis 29 Mei 2019

Mei 28, 2019

Efesiërs 5:14:  #Lig

29 MEI 2019

“Daarom sê Hy: Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood, en Christus sal jou lewe verlig.”

Die nag is daar dat ons kan slaap, maar die nag is nou verby, daarom sê Paulus in Efesiërs 5:14 “…ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dood.” Duisternis word vergelyk met die nag, met die sondige natuur, terwyl die dag vergelyk word met die lig, met nuwe lewe wat die sondige natuur afgelê het.  Daarom moet ons ontwaak, want die koms van die Here is nou nader aan ons, as toe ons na die Here toe gekom het.  Word wakker uit die slaap, die wat moeg kom word het op die pad, die wat afgedwaal het, staan op uit die dode, want geestelik is jy dood.

Johannes 10:10 verklaar: “Die dief kom net om te steel, te slag en te verwoes.” Daarom is dit tyd om wakker te word uit die slaap sodat Christus, wat lewe is, wat die lig van die wêreld is, oor jou kan skyn en dat Sy heerlikheid jou kan omvou.  Die wat die ongeregtigheid doen het die nag lief, maar die wat die geregtigheid van God najaag wandel in die dag, wandel in die lig van God, sodat die heerlikheid van die Here oor hulle kan skyn.

Vrede / Shalom