Dagstukkies met Dennis 26 Julie 2019
Julie 26, 2019
#Vergifnis
Lukas 6:27-28
“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word.”
Daar is ‘n gedeelte van ‘n lied wat sê; “Ek moet soos U wees…” en dan sê dit verder: “Sag en verdraagsaam onder verdrukking…. Laat nou U beeltnis op my wees….“
Net in hierdie paar reëls hoor ons die digter se pleidooi om die ware en egte karaktereienskappe van Christus in sy lewe te ervaar. Jesus het nie net in woorde gesê: “Julle moet julle vyande liefhê nie”, maar Hy het dit ook uitgeleef. Die Woord sê, Hy het Sy mond nie oopgemaak nie, want soos ‘n lam wat gelei was na die slagpaal het Hy sy mond nie oopgemaak nie. Aan die kruis het Hy gesê: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Spreuke 25: 21-22 sê: “As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet, en as hy dors het, gee hom water om te drink, want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en die Here sal jou dit vergelde.” Die wysheid wat Koning Salomo gehad het was sy tydgenote ver vooruit want reeds hier in die Ou Testament spreek hy woorde wat ingedruis het in sy tydvak waarin hy geleef het, maar dit was lyn reg met die woorde in Lukas 6:31 “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.” Daarom moet ons seën die wat ons vervloek en bid vir genade vir die wat ons beledig, en vergewe soos Christus ook ons sondes vergewe het.
Vrede / Shalom