Dagstukkies met Dennis 25 September 2019

September 25, 2019

25 SEPTEMBER 2019

Spreuke 31:29-30:  #Skoonheid

Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal! Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie.  As sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.”

Skoonheid spreek ook van reinheid wat van binne na buite uitgestraal word en dit werk uit op die karakter van die persoon. Dit spreek die ingesteldheid aan wat soos die spreukwoord sê: Jou naam gaan jou vooruit, hetsy goed of sleg. Spreuke 31:29 sê: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal!” Dit verklaar een ding: Jy kan maar ‘n hoe mooi skoonheid uiterlik hê, maar as jy nie ‘n goeie karakter het nie, dan baat die uiterlike skoonheid jou niks nie.  Daarom is dit baie belangrik om jou kinders in die vrese van die Here op te voed, sodat hulle die beginsel van wysheid kan verstaan.

Spreuke 31:30 verklaar: “Die bevalligheid is bedrog en die skoonheid is nietigheid.” Die Nuwe Lewende vertaling druk dit nog duideliker uit: “Skoonheid is soms misleidend. ‘n Mooi voorkoms hou nie vir altyd nie.” Dis tog so waar, want baie keer kry jy mense wat beeldskoon is, en jy vorm dan die beeld van ‘n wonderlike dierbare mens, totdat jy geskok word deur die persoon se optrede in ‘n situasie.  Dit is soos die Woord sê: “…..die skoonheid is misleidend en mooiheid is nie vir altyd nie.” Daarom moet ons noukeurig daarop let dat ‘n vrou wat die Here vrees moet geprys word, want haar waarde is ver bo korale, want haar innerlike skoonheid is vir ewig.

Vrede / Shalom